Israel

Afrikaans

Waaroor gaan 'n toer in Israel?

Beloofde Land - Heilige land - Israel

Die verbond wat God met Abraham gesluit het is van uiterste belang – selfs vandag nog – omdat dit die basis is waarvolgens die Jode hul land eis, en ons Christengeloof se wortels lê in hiérdie stuk aarde. Die ‘Heilige Land’ strek vanaf die Egiptiese grens tot by Sirië en vanaf die Mediterreense kus tot by die Oostelike kant van die Jordaan Vallei en die Dooie See.

Na 'n besoek aan Israel is daar oorweldigende beelde wat in jou gedagtes bly talm. Hoe beskryf 'n mens die oomblikke by die Klaagmuur in Jerusalem as jy tussen Ortodokse Jode staan wat, gesig teen die muur, hulle gebede hardop voor Jahweh prewel. Hul toegewyding en opregtheid is aangrypend, maar meer oorweldigend is die wete dat jy as Christen nie 'n gebedsboek nodig het of 'n briefie in die muur hoef te druk om met die Mesias - wat nie vêr van hier gekruisig is - te praat nie!

Soveel heilige plekke en oomblike wag op pelgrims. Neem byvoorbeeld die atmosfeer in die Tuin van Getsémané waar olyfbome uit Jesus se tyd stil getuies is van gebeure wat 2000 jr. gelede hier afgespeel het. Jy kan nie anders as om Jesus te hoor bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan...” En jy besef dat geen angs of vrees wat jy al ooit ervaar het naby hierdie groot offer kan kom nie.

Jy kyk van hier na die Tempelberg (Berg Moria) en hoor vêrlangs hoe Jesus oor Jerusalem geween het. (Luk. 19:41) Dieselfde berg waar Abraham vir Isak gebring het om sy enigste seun te offer (Gen. 22), dieselfde plek waar Salomo die eerste Tempel gebou het, met die deel van die tweede Tempel waar Jesus gestaan het toe Hy deur die Satan versoek is, vandag steeds in plek. (Matt. 4:5)

So gaan jy deur Israel. Wanneer jy in dieselfde sinagoge staan waar Jesus in Kapernaum geleer het, die Ein Gedi oase sien waarheen Dawid vir Absalom gevlug het en Psalms oor waterstrome geskryf het, en wanneer die enjins afgeskakel word tydens 'n bootvaart op die see van Galilea, kom daar 'n stilte - en beleef jy 'n Teenwoordigheid wat geen woorde kan beskryf nie. Dalk kan jy dieselfde ervarings in jou binnekamer of met 'n stappie langs die strand ervaar. Dalk. Maar om op dieselfde waters te dryf waarop Jesus gestap het en die storm stilgemaak het, maak dat geloof 'n heel nuwe betekenis vir jou kry.

Wanneer pelgrims die Bybellande besoek is Israel altyd die hoofbestemming, en meestal die enigste bestemming op hul reisplanne. Ons sluit graag ook omliggende lande soos Jordanië en Egipte in. Veral Jordanië is van groot belang as dit by ou testamentiese gebeure kom.

Comments are closed.